Dit raak herfs


Net so, skielik, na ‘n kort franse somer, raak die bome geel. Soos laas jaar het ons ‘n vreeslike hittegolf gehad in Julie, en dan, in Augustus, is die somer sommer oor. Jy kry net sulke bonus warm dae so tussendeur.

Tog is die seisoene lekker. In Frankryk is daar vier seisoene. Nie net òf warm, òf koud nie. Ons kla baie oor die weer hier. Die koue is erg, maar laat daai temperatuur net bo 30 gaan, dan kla ons eers!

Hier waardeer mens elke seisoen. Miskien nie so baie die temperatuur van elke seisoen nie, maar wat ons dan doen en hoe die natuur verander. Winter is koud, maar dan is die huis so lekker warm. Almal is saam binne. Dit sneeu miskien een of twee keer in die winter hier in Parys, of party winters glad nie, maar as jy die vlokkies so sien val, is die koue sommer die moeite werd. Dan weer, wanneer die lente begin, is dit asof daar lewe in Parys kom. Almal is buite. Die kinders speel in die parkies saans en by elke kafeetjie sit die sypaadjies vol. Die warmte hou nie lank nie, so dit word goed benut.

Die swaarste van die weer hier vir ons is die binne bly heel winter. Daar is nie lekker dae vir in die son sit, of ‘n braai nie. Dis te koud! Ons huis sit voor op die pad en die tuin is agter. Iewers einde Oktober sluit ons daai agterdeur en ons maak hom eers weer oop in Maart van die volgende jaar. Maar dan is die vreugde groot om te sien hoe die lilacs begin blom, en die appelboom is vol bloeisels en dalk is daar ‘n paar verdwaalde tulpe wat oorgebly het..

Hierdie jaar het ons so ‘n paar warm dae in Februarie gehad. Nou nie Suid-Afrika warm nie, maar ons het gedink dis goed genoeg om ‘n braai te probeer. Ons het wel warm tops moes nader trek en ons was te koud na die braai deel om nog buite te eet ook. Franse kollegas het effens geskok gereageer op die moontlikheid van ‘n braai in die winter. Dit doen mens nou nie… ongehoord…

Ek werk in Issy Les Moulinneaux. Ek wou sê Parys, maar volgens die Parysenaars is jy net in Parys as jy binne die sirkelpad, genaamd périphérique, is. My werk is so 100m buite daai pad. Ek kan darem die Eifel Toring sien van ons kantoor balkon af. Nou wel net die boonste helfte, maar tog.

En so verander die parkie onder my kantoor venster saam met die seisoene.

lente…
somer…
herfs…
winter sneeu…

…ons is reg vir die herfs, en begin solank jasse regkry vir die koue wat kom.

Clermont-Ferrand

Place de Jaube

Ek sit hier met ‘n café créme en ‘n bakkie slaptjips by ‘n restaurant op ‘n sypaadjie, want Pieter soek ‘n woonstel vir wanneer hy begin werk in September. Sy verloofde woon reeds hier. Hy gaan télétravail (werk op ‘n afstand?) vir ‘n startup in Parys. Af en toe kantoor toe met die trein om sy kollegas te sien.

Ek sit my piering op die klein koppie koffie soos Danie se Pa altyd gemaak het. Sodat die koffie warm kan bly terwyl ek my tjips eet. Die Franse en klein koppietjies…

Ek vra altyd vir ‘n groot koffie as hulle jou die keuse gee, want klein is espresso klein. Net partykeer vang hulle jou wanneer groot eintlik ‘n papbak is. Wie kan nou koffie uit ‘n papbak drink… sonder ‘n oor, ai.

coffee

Ek bekyk die teelepeltjie. Dis van die goedkoop soort, so dis goed, want ek gaan hom ‘leen’ om later my tarte citron revisitée in die hotelkamer te eet.

Terwyl ek die Franse so bedink en bekyk, kry ek die boodskap. Huis ten Bosch brand af! Weer! Ons universiteits koshuis in Stellenbosch. 36 Jaar gelede was dit ‘n duvet wat op ‘n verwarmer beland het. In die kamer oorkant my en Elsabé s’n. Middernag. Dis lank terug, maar ons onthou dit nog goed.

Darem vir Els so rukkie terug hier in Parys gesien. Net vir ‘n oggend. Ons kon nie al ons gesels inpas nie. Te kort. Te veel om op te vang.

Ek onthou hoe ek gesoek het vir my ID in my handsak. en ek kon dit nie kry nie. Hulle het ons so geleer, dink ek. Gryp jou ID. Maar nou is ek ook nie meer seker hoekom ek so my ID gesoek het nie. Ons sien toe al die vlamme oorkant die gang en ek los maar. Dink nie om maar net my hele handsak te vat nie.

Ek google Huis ten Bosch om te sien of daar nuus is, maar ek kry net hulle website. Huis ten Bosch – Women of Fire, lees ek. Hulle staan so bekend oor die brand wat in 1983 ‘n deel van die koshuis verwoes het.

In September 1983 het ons weer onthou dat ons tema vir vensterversierings in Februarie Quest for Fire was. Die tema was films daai jaar.

Net die boonste vloer het gebrand en ons kon later ingaan. Ons kamer was nie weg gebrand nie. Net die agterkante van die boeke in die boekrak was gebrand. Ek kon my foto’s red. Ek onthou dat ek net orals stukkies van my skaakstel sien lê het. Ons het een vakansie saam met my Pa dit uit klei gemaak en gebak. ‘n Gogga stel. Geel en swart. Ek kon ‘n paar red. Die biskoppe was wurms, pionne ladybirds en die perde was sprinkane. Dis al wat ek onthou, want ek het nog ‘n wurm, ‘n ladybird en ‘n sprinkaan hier in my franse huis. Ek het ‘n paar ander goed ook gered. Kan nie mooi onthou nie. Ek weet net dat ek party maar weggegooi het. Daai brand reuk gaan nie maklik uit nie.

Toe ek netnou vir Danie sê dat ek ‘n teelepeltjie by die restaurant ‘geleen’ het, is hy so geskok dat ek dink ek sal maar môre weer daar gaan koffie drink en die lepeltjie ongesiens terugsit.

Nou onthou ek. Padda en muis was koning en koningin. ‘Die padda wou gaan opsit by sy nooi in die vlei, a-hum…’ het my Pa nog gesê. Ek dink ek het ook nog ‘n muis met ‘n kroon op. Nou weet ek net nie of daar later ‘n muis in daai liedjie kom nie. Dalk is dit nie die regte liedjie nie. Terug in Beynes sal ek die stukkies soek en kyk wie is daar. Wonder net waar ek moet begin soek.

gekry…

skaakstel
Gogga skaakstel – die wat die brand oorleef het

NS. Die tarte citron (nogal revisited) was nie ‘n gesteelde lepeltjie werd nie. Regte lemon merinque sou baie beter gewees het. Môre vat ek daai lepeltjie terug.